Die Pil

Net weens ‘n pil
Die groot verskil.
Dit is wel my besluit,
Maar hoekom so daarteen stuit?

En hoekom laat emosies stry
Waar pil kan help koelkop te bly?
Moet eerlik met myself kan wees,
Ek sluk die pil en sal genees!

 

 

 

Pyn

Ek het ‘n bietjie rus gevind,

Nou wag ek net nog op my kind.

Omstandighede buite ons beheer
Bring misverstande keer op keer.
Vertroue het ‘n knou gekry,
Wie staan nou werklik op sy sy?
Egte hulp word nooit gekoop
Dit word gegee vir wie in nood.

Help hom om sy pad huistoe te vind,
Ek hoop en wag op jou my kind.

Die Pendulum

Op en af

En heen en weer
Swaai die pendulum.

Hoog en hoeer
Tot in die hoogste van gevoelens:
Geluk en blydskap,
Dankbaar- en tevredenheid

En egte Liefde,
Hemels, onbeskryflik…

En toe, heel onverwags,
Die afwaarts swaai.
En diep en dieper
Tot in die donker:
Terleurgesteld, vertwyfeld,
Moedeloos en sonder hoop.

Maar die pendulum sal swaai,
Heen en weer,
Op en af.

Net – sal ek kan hou?
Sal ek kan voel?
Sal ek begryp die ergste is verby?

My lewe is klaar veels te lang
En voor die toekoms is ek bang.

Volmaan

Uit die see se horison

Styg die maan rond en blinkskoon.

Niks kan hom keer,

Hy gaan sy baan,

Nie wind of wolke,

Of ‘n stêr.

Nooit is hy laat

Of voor sy tyd.

Presies sy maat

In ewigheid.

En dan…

(sien www.ouvrou.co.za/tagtig-plus.htm)

Ek het my wens gekry
‘n Tablet net vir my
Maar toe kom daar
‘n Nuwe wens sowaar:
Om rustig by die see te sit
Die wind en golwe te geniet
Die son sien in die meer verdrink
Voordat die nag haar kon verslind

 

Oud of Lui?

En weer is ‘n dag verby.

En weer het ek nie alles gedoen wat ek my voorgeneem het nie.

Een van die goed is briewe skryf en beantwoord. Ek het nog altyd baie daarvan gehou, maar skryf nou heeldag net lekker in my gedagtes, gedurende huiswerk en tuinwerk. Om daadwerklik die rekenaar aan te skakel en te sit en skryf, wel, dit sal ek môre doen. En môre is dit weer dieselfde storie.

Geen verskonig nie:

Is ek oud of is ek lui?

Sekerlik albei.

Tagtig plus

Opgedra aan Granny Marie Diogenidis en Pieter en Louise Scholtz.

Tagtig jaar en meer
baie het gebeur
om te onthou.

Eers ‘n inkpot
nou die laptop
om te skryf.

Eers ‘n plaaslyn
nou die slimfoon
om te praat.

‘n Lang verlede
korte toekoms,
dis my lewe.

Ek boer nog op my webwerf rond,
vlieg deur die kuber ruimte,
verken die wêreld met Google Earth.

Stuur sms
neem fotos digitaal
En dit is al.

Nou is ek oud
genoeg geleer
nog net ‘n tablet
ek begeer.
En dan ..?

Tagtig jaar en meer?
Sing saam net nog ‘n laaste keer:
die Ouvrou Coza sang.

Voorgedra: Ouvrou Coza
Teks en musiek: Ouvrou Coza
Khululeka natuur studio.

Insig

Ek stap met die gieter in my hand deur die tuin, besig my plantjies te water. Toe sien ek in my gedagtes hoe stadig my liggaam langs my loop. Ek sê toe vir myself: “Jy loop soos ‘n ou vrou.”  Wat?  Sjoe, ek is mos een.

Maar weet net nie wanneer dit gebeur het nie.

Genoeg

Die ouvrou sit en wag,
wag op haar einde.

Sit en wag;
dag na dag.

Genoeg!

Sy ruk haar reg,
Sy sal gaan veg,

en sneuwel.

Nie so erg nie.

 

Dit reën op die grasdak.

Dit reën deur die grasdak.

Gelukkig net plek-plek.

Drup-drup in die skottel,

klongk, klongk.   klongk, klongk.

 

Digter

Ouvrou het nog altyd van Carl Spitzweg se skildery

“Die arm Digter” gehou.

 

Vandag, 50 jaar gelede …

Ouvrou sit op haar stoep. Sy kyk na die see en sien ‘n skip verby vaar. Toe dink sy terug aan lank, lank gelede:

Die 19de April 1961 het ons met die vragskip “KARROO” vanaf Hamburg na Kaapstad gevaar. Alles waarvoor ons lief was het ons saamgevat, vanselfsprekend baie boeke, my klavier en ons ou Mercedes.

Ons het die 12de Mei in Kaapstad aangekom en word toe as immigrante geregistreer.

Kaartjie

Op die “KARROO” het ons verder gery na Port Elizabeth, toe Oos London en uiteindelik  vaar ons Durban se hawe in.

Vol van avontuurlike verwagtings Suid Afrika word ons nuwe tuiste.

Uitsig

Ouvrou woon nou in Pondoland, op die Wildekus. Sy geniet die uitsig, oor die reënwoud, op die oseaan en die skepe wat verby vaar.

Veral vandag, na 50 jaar, dink sy dankbaar terug aan haar oortog met die “KARROO”.

 

 

Boomgestaltes

Ouvrou sit op die stoep. Sy kyk na die seldsame figure wat hoog bo oor die woud hulle koppe uitsteek. Daar is ‘n hond met ‘n kat en nog ander kreature.

Hulle verander soms hulle voorkoms binne ‘n paar maande.

Ouvrou hou van haar bure, die boomreuse.

Twee Strepe

7:00 in die oggend lui Ouvrou se selfoon. Dis een van haar seuns en hy sê: “Twee strepe!” Niks verder nie. Ouvrou se brein is op Google-soek, vinnig, vinnig wat beteken dit? Gelukkig onthou sy toe, dat hulle graag ‘n gesinnetjie wil begin. Ouvrou antwoord, nogal versigtig: “O, ek mag julle gelukwens, of hoe?”

Dit was ‘n paar jaar gelede.

Laas maand, vroeg in die oggend, kom haar seun en sy vroutjie en vra of Ouvrou al haar bloeddrukpil geneem het. “Nee, maar wat is dit?” will sy weet. Hulle kyk na mekaar en nie een van hulle sê iets nie. “Nou goed,” sê Ouvrou, “twee strepe?” En hulle was stom van verbasing!

Maar dis nie die einde nie.

Presies nege dae later kry Ouvrou vroeg soggens ‘n MMS. Die foto daarop lyk soos haar nuwe “memory stick”. Wat sal dit beteken? Daar is niks bygeskryf nie en dit kom van haar jongste seun. Ouvrou kry haar bril en kyk weer. Nou goed, daar is een streep, nie twee nie. Sy kyk nog weer – wag, daar is wel ‘n baie swak tweede streepie. Sal dit beteken??? Ouvrou bel dadelik en gelukwens hulle!

Onthou, in Ouvrou se jong dae was hierdie gadgets nog nie eens uitgevind nie!

“Crunchy”

Sodra die behoefte ontstaan om met ‘n spesifieke uitdrukking iets te beklemtoon, soek ‘n veeltalige na die gepaste woord. Sonder om veel daaroor na te dink, word dit genoem. “Crunchy” is een van daardie woorde wat net nie in ‘n ander taal dieselfde gevoel uit lok nie.

Ons was met vakansie in Stilbaai. In die tent het ‘n klein gasyskas probeer koud bly. Ek het jellie gemaak en dit in die yskassie gesit. Die aand kyk ek of dit gestol het en toe wemel dit van miere, vasgevang in die stywe jellie. Omdat dit al donker was, los ek dit om in die oggend weg te gooi.

Die seuns het baie laat die nag terug gekom. Die volgende oggend vind ek die leë jelliebakkie en wou van hulle weet, wat van die jellie geword het. “O,  ons het dit geëet.” Ek lag: “En wat van die miere?” Hulle kyk na mekaar: “Gewonder, dit was so crunchy.”

Internet: 80 Jaar en ouer gesoek!

Ouvrou is op soek na mede ouderdoms venote wat ook nog aktief die Internet gebruik. Wat op ‘n rekenaar skryf en korrespondeer.

Die persoonlike rekenaar het eers in gebruik gekom toe ons reeds in ons middeljare was. Ook Ouvrou het gedink dat dit nie nodig is om nog iets nuuts uit te probeer nie, die ou manier van kontak hou was mos nog altyd goed genoeg gewees. Toe kom die dag waar haar seun die voordele uitwys en sy het vinnig geleer om die groot ou rekenaar te beheers. Dit is jammer, dat Ouvrou se susters en vriendinne nie belang stel om met haar in die Kuber ruimte rond te vlieg nie. Maar sy weet dat daar wel heelwat ou mense is wat die moderne kuns van kommunikasie beheers en uitoefen.

Dink net, ons kleinkinders werk maklik “online” en van ons agterkleinkinders het speelgoed rekenaars.

80 jaar en ouer – laat van julle hoor!

http://www.facebook.com/pages/Who-is-80-years-and-older-using-the-Internet/160717973978248