Ons het in 1961 na Suidafrika geëmigreer. In 1962 het ek my in ‘n Volkskorrespondensie kursus vir Afrikaans ingeskryf. Toe ek dit slaag na net vyf maande het ‘n koerant verslaggewer my hiermee verras:

DIE VADERLAND
Saterdag, 19 Januarie 1963
DIE VADERLAND Saterdag, 19 Januarie 1963
DIE VADERLAND Saterdag, 19 Januarie 1963

My koerant is nou oud en ek het probeer fotos neem.

Hiermee ‘n afskrif van die artikel.

Die Vaderland, Saterdag, 19 Januarie 1963.

DUITSE VROU SLAAG NA VYF MAANDE EKSAMEN IN AFRIKAANS.

‘n Jong Duitse immigrantevrou van Pretoria het gister verneem dat sy die nasionale senior sertifikaateksamen in Afrikaans geslaag het – en dit nadat sy slegs vyf maande daarvoor gestudeer het.

Sy is mev. Wiltrud Platzoeder van Carlstraat Waterkloof, wat skaars twintig maande gelede met haar man en hul twee seuns na S.A. verhuis het. Haar eggenoot, mnr. Wilfried Platzoeder, is werksaam by die W.N.N.R.

“Ek wil, ek kan, ek moet, ek sal”. Dit was die opskrif van die eksamenopstel waarin mev. Platzoeder in korrekte Afrikaans haar hartsbegeerte uigestort het – om Afrikaans so goed te leer lees en praat dat sy ten volle tuis kan voel in haar nuwe land en deur die lees van koerante en tydskrifte kan deelneem aan die dinge wat in S.A. gebeur.

Met ‘n lesing in haar handsak en ‘n ander een in die motor, het sy elke oomblik benut om te leer. Terwyl sy gewag het vir ‘n bus of vir die kinders by die skool, is verkleiningsvorme en spelreëls deeglik onder die knie gekry.

“Dat ek met die eerste probeerslag die eksamen sou slaag, het ek egter nooit kon droom nie,” erken mevr. Platzoeder wat ook die intermediëre eksamen in tik en die nasionale senior sertifikaat in Duits met welslae afgelê het. In Duitsland is sy opgelei as psigoterapeut. Stelselmatig wil sy nou al die nodige eksamens aflê sodat haar opleiding in S.A. erken kan word.

Haar wens om Afrikaans magtig te word, is nou verbonde met haar begeerte om S.A. die gesin se permanente tuiste te maak – al gaan dit op die oomblik nie breed nie.
Sy wil self inspring en werk “omdat ek glo dat S.A. vir ons kinders ‘n groter toekoms bied.”

“Ek beskou myself as ‘n realis, en tog het ek geen vrees vir die toekoms van hierdie land nie”, sê sy.

Die vreesaanjaende wanvoostellings in Duitse koerante het byna van hul plan om na S.A. te emigreer, laat afsien. Die man wat hulle oortuig het, was mnr. Theo Owen, hoof van die Satoer-organisasie in Duitsland.

As geskenke van mnr. Owen het sy ‘n Afrikaanse grammatikahandleiding en ‘n bloemlesing van Afrikaanse gedigte ontvang.

Ouvrou met Vaderland koerant 1963

Sien ook die fotos van 2011 met ons herdenking van ons aankoms in Durban: “Vandag, 50 jaar gelede”.