Ouvrou

Ouvrou. Image by *g*wolf

Ouvrou is in 1929 in Duitsland gebore. In 1961 emigreer sy na Suid Afrika en woon in die Pretoria omgewing tot 2001. Daarna verhuis sy na Pondoland op die Wildekus as plaasvrou vir ‘n dekade. Nou het sy afgetree in die Kaap naby haar kinders en kleinkinders.

Kontak Ouvrou
epos:  baroness.w@gmail.com

Deel 2

My Afrikaans se verhaal

Ons het in 1961 na Suidafrika geëmigreer. In 1962 het ek my in ‘n Volkskorrespondensie kursus vir Afrikaans ingeskryf. Toe ek dit slaag na net vyf maande het ‘n koerant verslaggewer my hiermee verras:

DIE VADERLAND
Saterdag, 19 Januarie 1963
DIE VADERLAND Saterdag, 19 Januarie 1963
DIE VADERLAND Saterdag, 19 Januarie 1963

My koerant is nou oud en ek het probeer fotos neem.

Hiermee ‘n afskrif van die artikel.

Die Vaderland, Saterdag, 19 Januarie 1963.

DUITSE VROU SLAAG NA VYF MAANDE EKSAMEN IN AFRIKAANS.

‘n Jong Duitse immigrantevrou van Pretoria het gister verneem dat sy die nasionale senior sertifikaateksamen in Afrikaans geslaag het – en dit nadat sy slegs vyf maande daarvoor gestudeer het.

Sy is mev. Wiltrud Platzoeder van Carlstraat Waterkloof, wat skaars twintig maande gelede met haar man en hul twee seuns na S.A. verhuis het. Haar eggenoot, mnr. Wilfried Platzoeder, is werksaam by die W.N.N.R.

“Ek wil, ek kan, ek moet, ek sal”. Dit was die opskrif van die eksamenopstel waarin mev. Platzoeder in korrekte Afrikaans haar hartsbegeerte uigestort het – om Afrikaans so goed te leer lees en praat dat sy ten volle tuis kan voel in haar nuwe land en deur die lees van koerante en tydskrifte kan deelneem aan die dinge wat in S.A. gebeur.

Met ‘n lesing in haar handsak en ‘n ander een in die motor, het sy elke oomblik benut om te leer. Terwyl sy gewag het vir ‘n bus of vir die kinders by die skool, is verkleiningsvorme en spelreëls deeglik onder die knie gekry.

“Dat ek met die eerste probeerslag die eksamen sou slaag, het ek egter nooit kon droom nie,” erken mevr. Platzoeder wat ook die intermediëre eksamen in tik en die nasionale senior sertifikaat in Duits met welslae afgelê het. In Duitsland is sy opgelei as psigoterapeut. Stelselmatig wil sy nou al die nodige eksamens aflê sodat haar opleiding in S.A. erken kan word.

Haar wens om Afrikaans magtig te word, is nou verbonde met haar begeerte om S.A. die gesin se permanente tuiste te maak – al gaan dit op die oomblik nie breed nie.
Sy wil self inspring en werk “omdat ek glo dat S.A. vir ons kinders ‘n groter toekoms bied.”

“Ek beskou myself as ‘n realis, en tog het ek geen vrees vir die toekoms van hierdie land nie”, sê sy.

Die vreesaanjaende wanvoostellings in Duitse koerante het byna van hul plan om na S.A. te emigreer, laat afsien. Die man wat hulle oortuig het, was mnr. Theo Owen, hoof van die Satoer-organisasie in Duitsland.

As geskenke van mnr. Owen het sy ‘n Afrikaanse grammatikahandleiding en ‘n bloemlesing van Afrikaanse gedigte ontvang.

Ouvrou met Vaderland koerant 1963

Sien ook die fotos van 2011 met ons herdenking van ons aankoms in Durban: “Vandag, 50 jaar gelede”.

Die Stapelia

Sy blom lyk baie pragtig,
maar ruik so sleg, nee magtig.
Geen skoenlapper of by
waag dit naby.
Net vlieë en brommers dank
vir die stank.

Vlieg op Stapelia

Slakkepas

‘n Slak het die woonwa uitgevind
maar net nie aan ‘n wiel gedink.
Nou gly hy op sy maag
stadig berg op, berg af.

Ouvrou slak

Die Piesang

Die vrug is skoon verpak,
beskerm teen stof en kakerlak,
en maklik om te skil
net waar en wanneer
jy dit wil.

Die vrug gee krag
en lekker sag,
al is geen tande in die kies,
soos babas en die oumatjies.

Nie snaaks nie

My hare word minder,
my ore hoor minder,
my oë sien minder,
my tande is al minder,
net my jare wat vermeerder.

Raai, raai…

Pythagoras kombers

Dis nie ‘n huisie nie –
dis Pythagoras se teorie:

a² + b² = c²

Ek het in wol probeer
wat ek op skool geleer.

Verveeld? – Aikôna.

Hoekom sal jy met 85 verveeld wees, al loop jy waggel-waggel en die oë sien moeilik?
Daar is so baie om te doen:
Moet die potplante versorg, hekel met kleurvolle wol, gedagtes op die laptop/tablet skryf, ens. ens.
Sit, staan, sit, maar tog so ‘n klein stappie om die blok so af en toe.
My plekkie is piepklein maar my idees en gedagtes reusagtig. En daar is net nie genoeg tyd nie.

Mutti se “Multi” Tuinhoekie

Multi plante: Kruie, blomme, groente, vetplante en baie meer.

Multi groeimateriaal: Grond, kompos, sand, vermikuliet en ander.

Multi houers: Potte, karton, plasieksakke, -bottels en -houers, ou wasmasjien dromme en alles wat herbruik kan word.

Multi werk en
Multi plesier.

Mutti Multi Tuin

Die Tuinbank

Die tuinbank, vrot en oud
benodig nuwe hout.
Daar sit nou rustig pot teen pot
met kruie vir ‘n slaai of sop.

Die Tuinbank

Solitaire

Ek lê in die bed
en speel op my tablet
Solitaire,
net ‘n paar keer.
Dan is ek moeg
en het genoeg.
Gaap
en slaap.

Hekel

Colette het wol gebring
En ek het ‘n kombers begin.
Nou hekel ek die hele dag,
Die naald gly vinnig, ewe sag
Deur elke steek.
En week na week
Word patrone uitprobeer
En idees uitsorteer,
Kleure saam gevoeg,
Tot dit is groot genoeg
As ‘n kombers vir Kei
En hy is baie bly.

'n kombers vir Kei

Snags

Nagtelike tydverdryf
In gedagtes briewe skryf
Met toe oë in die bed
Sonder pen of ‘n tablet.
As jy pos van my verwag
Kom besoek my in die nag.

Die Pil

Net weens ‘n pil
Die groot verskil.
Dit is wel my besluit,
Maar hoekom so daarteen stuit?

En hoekom laat emosies stry
Waar pil kan help koelkop te bly?
Moet eerlik met myself kan wees,
Ek sluk die pil en sal genees!

 

 

 

Pyn

Ek het ‘n bietjie rus gevind,

Nou wag ek net nog op my kind.

Omstandighede buite ons beheer
Bring misverstande keer op keer.
Vertroue het ‘n knou gekry,
Wie staan nou werklik op sy sy?
Egte hulp word nooit gekoop
Dit word gegee vir wie in nood.

Help hom om sy pad huistoe te vind,
Ek hoop en wag op jou my kind.

Die Pendulum

Op en af

En heen en weer
Swaai die pendulum.

Hoog en hoeer
Tot in die hoogste van gevoelens:
Geluk en blydskap,
Dankbaar- en tevredenheid

En egte Liefde,
Hemels, onbeskryflik…

En toe, heel onverwags,
Die afwaarts swaai.
En diep en dieper
Tot in die donker:
Terleurgesteld, vertwyfeld,
Moedeloos en sonder hoop.

Maar die pendulum sal swaai,
Heen en weer,
Op en af.

Net – sal ek kan hou?
Sal ek kan voel?
Sal ek begryp die ergste is verby?

My lewe is klaar veels te lang
En voor die toekoms is ek bang.