Nog altyd word Kersfees in Desember en die Kersaand op die 24. gevier. Ook Ouvrou het hierdie tradisie bybehou in die amper vyftig jaar wat sy nou in Suidafrika tuis is. Daar is net een groot verskill tussen ‘n Kersfees in die midwinter en dié wat gedurende hoogsomer gevier word.
Hier is 21./22. Desember die langste dag en kortste nag in die jaar. Tot dan het die son elke dag ‘n bietjie vroër opgekom en ‘n bietjie later agter die horison verdwyn. In die stad het dit min invloed op die alledagse lewe. ‘n Dag se roetine verloop klokslag, uitgerig na die horlosie met gereëlde werksure, skoolgaan en selfs met die vryetydsbesteding. Maar op die platteland kan die invloed van die son se kom en gaan nie so maklik ignoreer word nie. “Met die hoenders opstaan” is nie net ‘n spreekwoord nie, dit word nog steeds toegepas. Die hoenderhaan kraai, die hoenders kekkel – net so vroeg soos dit helder word. Ook in die stad word die voëltjies met sonop gehoor, maar dit beteken nie opstaantyd nie. Die pluimvee sal eers rus gee as hulle hok oopgemaak word. En daarmee het ‘n dag se werksaamhede sy aanfang geneem, ongeag wat die horlosie sê. Dieselfde geld saans. Diere, om by die hoenders te bly, soek eers hulle slaapplek op as die son sak. Dit is die ritme van die natuur.
Beleef die somersonwende:
Soek jou eie skaduwee gedurende die midddagsuur op die 21./22. Desember -
Jy staan daarop!