Die boek van gesigte

May 8th, 2009

Op hierdie webwerf is die gesigte van vriende, en vriende van die vriende se vriende s’n. Soms verskyn in die plek van ‘n gesig ‘n groep of ‘n beeld. Almal is vriendelik. Maar wat van die vriende sonder gesigte?

clip_image002.jpg Ouvrou wonder maar net.

Dit het baie oorredingskuns van haar seun gekos, om by die “facebook” aan te sluit. Ouvrou het geredeneer dat op haar leeftyd meeste van haar vriende dood is of glad nie in rekenaars ens. belangstel nie. Nou het die “boek van gesigte” haar laat besef, dat vriende nie ouderdomsgebonde is nie. Sy het sowaar nog baie vriende!

Ouvrou se foto in “facebook” het ‘n storie:

Jare gelede verras haar seun haar met ‘n besonderse verjaarsdagkaartjie. Daarop verskyn ook Ouvrou se gesig, maar sy kon gladnie herinner waar en wanneer dit afgeneem is nie. Dat intussen ‘n selfoon ook fotos kan neem, amper skelmpies, het sy daardie tyd nog nie geweet nie. —

Kyk onder Pages: “about”

Nuwe Maandag

November 10th, 2008

Gister, Sondag, het ek 79 jaar oud geword. Net nog hierdie jaar dan is ek TAGTIG!

Toe vanoggend:

Sonskyn, ‘n heerlike dag, reg om hierdie blou Maandag te vier met ‘n slukkie van die sjampanje wat oorgebly het, sjokolade (wat nog nie gebêre was nie), Frank Duval, vol volume deur luidsprekers – en onder hierdie klanke met élan die skottelgoed te was.

Die nuwe Maandag het ouvrou die laaste van haar sewentiger jare lekker laat begin!

My Padda

October 16th, 2008

my padda.jpg

Ouvrou onthou baie goed die gebeurtenis toe hierdie foto geneem is:

Ek was twee jaar oud (dit staan agter op die foto). Ons het by vriende van my ouers gekuier en hulle het ook ‘n dogtertjie so oud soos ek gehad. Aan haar het die padda uit sagte rubber behoort (toe was daar mos nog nie plastiek nie). Ek wou so graag met die padda speel, maar sy het dit nooit toegelaat nie. Toe word die padda in my arms gedruk – ek kon dit nie glo nie! Ek was salig, onbeskryflik gelukkig.

“Dit was net vir die foto”, probeer Pa my troos, toe die padda van my weggeneem word en ek in trane uitbars. Ek sal vandag die plek weer vind, presies waar ek gestaan het, toe ‘n groot pyn deur en deur my gegaan het. Ontmoontlik om te verstaan, hoekom my so seer maak? Die padda is mos vir my gegee? ‘n Wens word uiteindelik vervul,
en toe – - -

‘n Tweejarige gee nie om vir ‘n mooi foto nie. ‘n Tweejarige het die padda gekry sonder om dit self te vat. Sy was gehoorsaam. Hoekom moes sy dan die padda weer teruggee? Dit kon sy nie verstaan nie en sy het die ander meisietjie daarvoor blameer.

Ons het na dieselfde skool gegaan, maar ek het haar vermy deur al die jare. Altyd ‘n afstand probeer hou tussen haar en my. Hoekom? Iets in verband met haar was nie lekker nie.

Dit was ‘n leeftyd later toe ek op die foto afkom en besef het, hoe ongereg ek teenoor haar was. Maar ek is seker, sy het ook nie my vriendskap gesoek nie. Ten slotte het hulle haar padda aan my gegee en hoe erg was dié oomblik vir haar?

Ouvrou kyk na die foto en beleef dit oor en oor: “himmelhoch-jauchzend” en “zum Tode betrübt”.

Te Besig?

September 17th, 2008

Verskonings vir die pouse:

(met my skrywery)

Ek stop kouse

(dis rymelary!)

en lap broeke.

Saans verslind ek boeke.

Soggens, werk in huis en tuin,

versorg van diere vol met pluim.

Die dag is klaar verby,

voor ek my Pegasus kon ry.

pegasus-trad1.gif

Die Boomslang

January 29th, 2008

Slang 1 onderlangs dakBoomslange hou daarvan om
swaelneste te plunder. Hierdie een
seil onderlangs die dak na ‘n nessie.

Blitsvinnig verdwyn die slang se kop in
die nes, – en kom uit met die klein
swaeltjie in die bek.

.

.

.

Slang 2 onderlangs dak

gevang en vrygelaat!
Slang 3 Gevang

Die Koei uit Brasilië

September 4th, 2007

Ouvrou se kinders bring ‘n koei van Brasilië vir haar as present. Sy lag! O, nee, nee. Dít is nou ‘n storie:

Toe Ouvrou lank, lank gelede na Suid Afrika gekom het, was die Kruger Nasionale Park vir haar die eintlike “Afrika”. Die wilde diere en veral die geluide in die nag, net soos sy gedink het Afrika sal wees.

‘n Paar jare gelede besluit sy om uit die stad te trek na ‘n landelike gebied, na haar droom van Afrika. Wonderlik. Sy het geweet daar sal nie meer wilde diere wees nie, maar voëls en paddas, krieke en sonbesies se veelstemmige geluide was al ‘n groot verskil van die gewoonde stadsgeraas. Net die gebulk van die koeie, dag en nag, was irriteerend. Oorals is beeste. Die ongelooflikste sonsondergang word begelei met die gebrul, nie van leeus nie, nee, met ‘n koei se verlange na ‘n maat.

Toe eendag skiet dit haar te binne, dat sy baie onnosel is. Nooit het sy ‘n bees as inheems in Afrika beskou nie. Haar prentjie van Afrika was gevorm deur die Nationale Parke met sy “wilde”diere.

Dit is egte Afrika waar sy nou woon. Die beeste is die rykdom, latyns: “pecunia”. Geen pekoenêre waarde, nie geldelike besit nie, hier is beeste ‘n statussimbool.

Net kort daarna, miskien ‘n dag of twee later na sy haar insig met die koeie reg geruk het, kom haar kinders terug van ‘n vakansie en sy haal uit die geskenkpakkie – hierdie Brasiliaanse koei:

Brazilcow190520061120.jpg

Haiku

August 5th, 2007

Haiku is ‘n ou Japanese vorm van ‘n baie kort gedig. Dit is besonders, dat ‘n toneel, ‘n situasie uitgebeeld word met ‘n eerste reël wat uit net vyf lettergrepe, ‘n tweede reël uit sewe en ‘n derde reël weer uit net vyf lettergrepe bestaan.

Ouvrou probeer:

Somernag. Volmaan.
Visbraaivuur met soetpatats.
Klere ruik na rook.

Doudruppels op blaar.
Groot hoender pik klein slakkie.
Aarbei rooi en stom.

Meeu ry golwe.
Sardyntjies swem in skole.
Dolfyn bollmakies’.

Stofwolk – reënwolk.
Paddas oefen kwaakkonsert.
Sonstraal dirigeer.

‘n Besonderse pruim

July 3rd, 2007

Toe was ouvrou nog jonk. —

In ‘n klein armoedige huisie het twee ou mense gebly. Liewe mense, still en teruggetrokke. Af en toe het ek by hulle ingeloer, ietsie vir hulle saamgebring en ‘n koppie koffie saam met hulle gedrink. Eendag sê die ou man: “Ons pruime is ryp, jy moet een proe.” Eintlik is ek gladnie lief vir pruime nie, hulle het altyd wurms. Maar sy vrou voeg trots by: “En hulle het niks wurms nie!” Dit was ‘n lekker groot pruim wat hulle my gegee het om te eet. Hulle twee hou my dop en wag vir my lof. Ek byt in die pruim – en siedaar – ‘n wurmpie kyk na my met die piepklein oogies! Toe ek dit vir die ou mense wou wys, sien ek hoe trots en gelukkig hulle is om vir my so ‘n pragtige pruim te kon gee. En ek eet alles op, pruim én wurmpie.

Na al die jare kan ek net nie die wurmpie vergeet nie – - -

Die blou-oog Fatima.

June 2nd, 2007

Karavaan in Persie
‘n Karavaan in Persië, 1927

Van sy reis deur die Oriënt het my vader nie net fotos saamgebring nie, maar ook die naam “Fatima”. Twee jare later het dit een van my drie voorname geword.

Hierdie naam was die rede vir my behoefde om Arabies te leer. Maar ek het eers later in my lewe die tyd gevind om dit te kon studeer. Veral van die skrif hou ek baie en het dit soms met Duitse en Afrikaanse woorde gebruik, soos ‘n geheimkode. Ongelukkig is my taalkennis nou vervaag.

Maar as moeder van sewe kinders het ek wel die betekenis van “Fatima” vervul: die veelgebarende.

fatima.gif

.

‘n Traan op “u” se graf

May 4th, 2007

Lamentasie: O, ag, nee!

Hoekom het “u” ons moes verlaat?

Die “jy” en “jou”

sal nooit “u” kan vervang nie.

Die Franse “vous”,

die Duitse “Sie”,

die “u” in Afrikaans

wys elegansie, toon respek,

is welbevoegd en kultiveerd.

Dit laat ‘n ou mens lekker voel.

Wie het die “u” so sleg bewaar?

Wie het die “u” begrawe?

Hoe kan ons klaarkom sonder “u”?

Wie sal ‘n Ouvrou troos?

Gedroogde Koejawels.

April 2nd, 2007

Soek ryp maar ferm vrugte uit,

verwyder die stingel en blommetjie gedeelte,

sny middeldeur,

krap die pitte met ‘n lepel uit,

sny in ‘n reep,

trek op ‘n garing,

hang op

en laat droog.

Quavas.jpg

‘n Heks.

March 8th, 2007

Ek het oud geword en moet met ‘n stok loop. Niemand vind dit snaaks nie, net ek. Die prentjie van my eerste storieboek sit al lewenslank vas in my geheue – met presies dieselfde stok!

heks.jpg

Lyk ek nou soos hierdie heks? Ouvrou wonder…

‘n Digitale duif.

February 15th, 2007

Noah het ‘n duif die verkennerwerk van sy buitewêreld laat doen. Nou het ons satelliete wat in die ruimte rondsnuffel.

‘n Briefie is met ‘n duif gestuur. Vandag se e-pos het die posduif oorvleuel ? ‘n “digitale” duif, of hoe? vra ouvrou.

Oud genoeg?

January 20th, 2007

Op watter ouderdom moet dit maklik wees om te kan wag? Ek staan in ‘n tou by die poskantoor. Eintlik moes ek van beter geweet het en nie hierdie tyd van die dag gegaan het nie. Maar nou is dit te laat, dit moet nog vandag gepos word om betyds sy bestemming te bereik. ‘n Groot man roep ongeduldig: “Kan julle nie vinniger werk nie.” Die vrou wat agter my staan beaam dit: “Ja, ons is hastig.” Ek draai om en sien dit is ook ‘n ouerige vrou. “Hoekom is jy hastig?” vra ek haar. “Ek hou nie daarvan om te wag nie,” was die antwoord.

Toe gesels ouvrou met haar. Op ‘n sekere leeftyd behoort ‘n mens genoeg tyd vir hom self te hê. Dit is een van die voorregte van oud wees dat niks en niemand aanjaag. Iets ongewoon na ‘n aktiewe lewe, maar ‘n bonus as gewag moet word. Ongeduld is baie onnodig, ongesond vir die bloeddruk ook. Jy kan bekostig om te wag – as jy net oud genoeg is!

Ouvrou se gholfbal.

December 7th, 2006

Afgeslaan,
suis deur die lug,
land presies waar hy moet wees.

Met élan,
en sonder nukke,
rol en draai tot in die gat.

Erg verslaan,
die vel in stukke,
verby sy tyd van glorie.

Retireer?

Regenereer!

Met die eiers in die nes
lyk hy amper soos die res,
hoenders keur hom goed.
Rateldier vol moed
gryp die bal -
- en laat hom val,
hierdie eier wys geen breuk:

Ouvrou het hom goed verneuk!

Gholfbal.jpg