Ouvrou onthou baie goed die gebeurtenis toe hierdie foto geneem is:
Ek was twee jaar oud (dit staan agter op die foto). Ons het by vriende van my ouers gekuier en hulle het ook ‘n dogtertjie so oud soos ek gehad. Aan haar het die padda uit sagte rubber behoort (toe was daar mos nog nie plastiek nie). Ek wou so graag met die padda speel, maar sy het dit nooit toegelaat nie. Toe word die padda in my arms gedruk – ek kon dit nie glo nie! Ek was salig, onbeskryflik gelukkig.
“Dit was net vir die foto”, probeer Pa my troos, toe die padda van my weggeneem word en ek in trane uitbars. Ek sal vandag die plek weer vind, presies waar ek gestaan het, toe ‘n groot pyn deur en deur my gegaan het. Ontmoontlik om te verstaan, hoekom my so seer maak? Die padda is mos vir my gegee? ‘n Wens word uiteindelik vervul,
en toe – - -
‘n Tweejarige gee nie om vir ‘n mooi foto nie. ‘n Tweejarige het die padda gekry sonder om dit self te vat. Sy was gehoorsaam. Hoekom moes sy dan die padda weer teruggee? Dit kon sy nie verstaan nie en sy het die ander meisietjie daarvoor blameer.
Ons het na dieselfde skool gegaan, maar ek het haar vermy deur al die jare. Altyd ‘n afstand probeer hou tussen haar en my. Hoekom? Iets in verband met haar was nie lekker nie.
Dit was ‘n leeftyd later toe ek op die foto afkom en besef het, hoe ongereg ek teenoor haar was. Maar ek is seker, sy het ook nie my vriendskap gesoek nie. Ten slotte het hulle haar padda aan my gegee en hoe erg was dié oomblik vir haar?
