Archive for the ‘Uncategorized’ Category

Gedroogde Koejawels.

Monday, April 2nd, 2007

Soek ryp maar ferm vrugte uit,

verwyder die stingel en blommetjie gedeelte,

sny middeldeur,

krap die pitte met ‘n lepel uit,

sny in ‘n reep,

trek op ‘n garing,

hang op

en laat droog.

Quavas.jpg

‘n Heks.

Thursday, March 8th, 2007

Ek het oud geword en moet met ‘n stok loop. Niemand vind dit snaaks nie, net ek. Die prentjie van my eerste storieboek sit al lewenslank vas in my geheue – met presies dieselfde stok!

heks.jpg

Lyk ek nou soos hierdie heks? Ouvrou wonder…

‘n Digitale duif.

Thursday, February 15th, 2007

Noah het ‘n duif die verkennerwerk van sy buitewêreld laat doen. Nou het ons satelliete wat in die ruimte rondsnuffel.

‘n Briefie is met ‘n duif gestuur. Vandag se e-pos het die posduif oorvleuel ? ‘n “digitale” duif, of hoe? vra ouvrou.

Oud genoeg?

Saturday, January 20th, 2007

Op watter ouderdom moet dit maklik wees om te kan wag? Ek staan in ‘n tou by die poskantoor. Eintlik moes ek van beter geweet het en nie hierdie tyd van die dag gegaan het nie. Maar nou is dit te laat, dit moet nog vandag gepos word om betyds sy bestemming te bereik. ‘n Groot man roep ongeduldig: “Kan julle nie vinniger werk nie.” Die vrou wat agter my staan beaam dit: “Ja, ons is hastig.” Ek draai om en sien dit is ook ‘n ouerige vrou. “Hoekom is jy hastig?” vra ek haar. “Ek hou nie daarvan om te wag nie,” was die antwoord.

Toe gesels ouvrou met haar. Op ‘n sekere leeftyd behoort ‘n mens genoeg tyd vir hom self te hê. Dit is een van die voorregte van oud wees dat niks en niemand aanjaag. Iets ongewoon na ‘n aktiewe lewe, maar ‘n bonus as gewag moet word. Ongeduld is baie onnodig, ongesond vir die bloeddruk ook. Jy kan bekostig om te wag – as jy net oud genoeg is!

Ouvrou se gholfbal.

Thursday, December 7th, 2006

Afgeslaan,
suis deur die lug,
land presies waar hy moet wees.

Met élan,
en sonder nukke,
rol en draai tot in die gat.

Erg verslaan,
die vel in stukke,
verby sy tyd van glorie.

Retireer?

Regenereer!

Met die eiers in die nes
lyk hy amper soos die res,
hoenders keur hom goed.
Rateldier vol moed
gryp die bal -
- en laat hom val,
hierdie eier wys geen breuk:

Ouvrou het hom goed verneuk!

Gholfbal.jpg

Ons Perde!

Sunday, November 19th, 2006

O perdemis, o perdevy

Vars by ons voordeur afgelaai.

Die rose se geur

Word versteur.

Maar hulle gee nooit om nie,

Hou van hierdie voeding.

En wat is ons vergoeding?

Gras sny nie meer nodig nie!

Roos&Perde.jpg

So veel liefde.

Friday, October 13th, 2006

Dit is vier uur in die namiddag. Ouvrou het haar ‘n lekker koppie koffie gemaak. Sy will dit buite op die stoep met ‘n beskuit geniet. Pah, daar wag die eendemannetjie al klaar op haar. Hy knibbel aan haar rok. Sy streel hom en kielie onder sy nekvere, maar onverwags sal hy ‘n blaps by haar voete los en daarvoor is sy nie nou lus nie. Dus op die stoeltjie by die voordeur gaan sit? Hier kom die kat en spring op haar skoot. Amper koffie en beskuit gemors. Toe gaan ouvrou na haar tuin se lekker bankie. ‘n Groot gefladder en al wat hoender is en die haan ook, probeer langs haar sit en bedel vir ‘n krummeltjie. Gelukig het die jonk hondjie nog nie vir ouvrou ondek nie, – - – gevolgtrekking? Liefde gaan beslis deur die maag! Ouvrou wonder, net by diere?

Warm Water.

Saturday, September 2nd, 2006

Op die blikdak brand die son,

‘donkie’ word warm water bron.

Wat ‘n verrassing,

warm water sonder verassing.

donkie alleen.gif

Igittegit!

Friday, August 25th, 2006

Ou vrou se seun ry op sy perd.

Hy ry deur die bos en veld.

Die perd bring bosluise huistoe.

Die seun pluk hulle af.

Hy gooi hulle op die grond.

Die hoenders kom.

Hulle pik die bosluise op.

Die hoenders lê eiers.

. . . . . . . . . . . . . .

Strandgangers.

Monday, July 31st, 2006

‘n Gas uit Engeland vertel, toe sy nog ‘n kind was, het sy eendag op ‘n stasie gesien hoe koeie in spoorwegwaens klim. Sy vra haar pa, waarheen hulle op reis is. Hy aantwoord haar: “Hulle gaan met vakansie.”

En toe sy nou, jare later, langs die Wildekus toer … sien sy tot haar verbaasing, dat koeie werklik vakansie hou, en nogal op die strand!

Strandkoeie

Naglewe.

Sunday, June 25th, 2006

Die ou vrou sit op die kant van haar bed. Dit is een uur snags. Sy het lekker geslaap.

Eintlik genoeg geslaap. Wat nou? Sy eet ‘n blokkie sjokolade. Laat dit smelt in haar mond. Sy sit en dink. ‘n Slukkie Whisky sal ook lekker wees. Die ou vrou voel, dit is nie eintlik nodig nie.

Voor sy terug in die bed klim trek sy die gordyne oop. Nou kan sy die lig van die volmaan sien. Dit is baie helder buite en die see se golwe glinster. Deur die oop venster kom die reuk van perdemis. Dit is van die ou merrie wat snags om die huis mag wei.

Die ou vrou sit al weer op die kant van haar bed. Nog voor sy kon slaap, kom een gedagte na die ander. Lig aan, notas maak, lig af. Ensovoorts. Sy weet gedagtes kom meesal net een keer. As sy wakker word in die oggend is hulle weg. Sy gee die stryd gewonne, staan op en skakel haar laptop aan. Sy skryf van die gedagtes neer. Dan speel sy ‘n paar keer Solitaire.

Uiteindelik is sy terug in haar bed. Tevrede met haar lewe, dink sy aan die lekker kopie koffie wat soggens op die bedkassie sal staan en aan haar kinders —

Sjokolade

Tuesday, May 23rd, 2006

“Die daaglikse genot

van sjokolade

herstel die gesondheid

en verleng die lewe”

(Dr. Bèhèrens, huisdokter van Cardinal de Richelieu, 1630)

*****

Eeue gelede het die mense al geweet wat heilsaam en lekker is.

Musiek

Tuesday, April 18th, 2006

Die ou vrou bad in musiek.
Nie in water en ook nie in die bad nie,
nee, sy sit in haar gemakstoel
en laat musiek oor haar vloei.
Oor haar hele liggaam.
Oor alles, liggaam, siel en gees.
Sy ontspan lekker.

Sy sluit haar badsessie af met stort.
Soos fyn vingertjies streel
die sagte straal haar gemoed.
Voll oopgedraai –
dit laat haar hart met ritme klop.
Sy wissel af tussen warm en koud.
So warm dat trane in haar oë kom,
so koud dat sy bibber.

Sy hou van ‘n breë spektrum,
van ekstreme,
van Beethoven en Boo,
Resphigi en Buddhabar.

Trevede klim sy in haar bed en slaap.

Muisneste?

Thursday, April 13th, 2006

Wie van my medeboeresusters het al met ‘n muis in die bed geslaap? Ons had net ‘n kort tyd ons intrek in die rondawel op ons nuwe plaas geneem, toe word ek een nag wakker van ‘n gekriewel teen my been. Miskien my man se tone? Ek draai om en gaan aan slaap.

Die volgende oggend verwonder ek my oor klein swart goedjies op die laken. Maar dis – , ja, dit is muis se mis. Verskriklik. Ek gril by die gedagte aan slaap met man en muis aan my sy.

Baie huiwerg gaan ek daardie aan bed-toe. Niks gebeur nie. Ek slaap. Gil, komberse afgooi, uitspring, en hier sit hy, ‘n piepklein muisie met groot verskrikte oë in die straal van die flitslig. Weg is hy. Ons kry hom nêrens. Môre, sê my man, môre sal ons hom vang, maar nou moet ons gaan slaap. Maar vir my wil die slaap nie kom nie. Net die muis. Hier loop hy langs my kop op die kussing.

Hoe kon ek anders? Die gesnork aan my sy het niks gehelp nie. Vroeg die oggend spring hy met die vekeerde been uit ons bed: langs hom slaap vrou en kat.

P.S.: My man hou nie van katte nie.

Ou vrou herinner:

Dit is ‘n storie wat 40 jare gelede gebeur het. Sy het dit toe later aan ‘n tydskrif se wedstryd gestuur en R50.00 gewen. Ou vrou het vergeet watter tydskrif dit was en die prys was ‘n lekker beloning.
Tye verander. Katte ook? Kyk die prentjie wat aan haar gestuur is.

Kis Kat

Lewenslank

Tuesday, April 4th, 2006

Die ou vrou sit op die stoep. Sy drink haar whisky uit ‘n gewone glas. Vergeet, om in ‘n mooi glas te skink. Die southappies is oud. Maar sy is tevrede. Sy is tevrede waar sy sit, kyk in die skemer, hoor die geraas van die see, net soos sy altyd hierdie geluid in die stad gehoor het, maar toe was dit die verkeer.
Die man wat die pa van haar vyf kinders was, is dood. Dit raak haar nie baie nie. Hulle was al jare geskei. Hy het nog ‘n keer getrou met ‘n jonger vrou, of moes trou. Maar die het hy ook geskei. Sy eerste vrou het hom geskei. Sy was baie ryk en baie ouer as hy.

Die ou vrou sit op die stoep. Sy is nie lus vir ‘n whisky nie, al is dit ‘sundowner’tyd. Sy maak haar ‘n koppie koffie, nee, dit is nou ‘n beker koffie, dubbel die hoeveelheid van ‘n koppie. Sy het lekker beskuit om in te dip. Haar dogter se skoonma s’n en haar skoondogter se ma s’n.

Die ou vrou sit op`die stoep. Sy geniet haar koffie met beskuit en whisky. Dit reën. Dit is lewensnoodsaaklige water. Sy ervaar ‘n wonderlike gevoel van gerusstelling met die sien en geluid van elke druppeltjie.

Die ou vrou lê in die bed. Sy is dors. Sy steek haar hand uit en gryp die waterbottel. Dit is ‘n plastiekbottel wat lekker vashou plekke het. ‘n Triathlonbottel wat haar seun vir haar gegee het. Sy kan bly lê en maklik sluk- sluk drink. Lank gelede het sy netso gelê en drink. Toe was sy ‘n baba aan haar ma se bors.

101020062238x.jpg