Ouvrou se kinders bring ‘n koei van Brasilië vir haar as present. Sy lag! O, nee, nee. Dít is nou ‘n storie:
Toe Ouvrou lank, lank gelede na Suid Afrika gekom het, was die Kruger Nasionale Park vir haar die eintlike “Afrika”. Die wilde diere en veral die geluide in die nag, net soos sy gedink het Afrika sal wees.
‘n Paar jare gelede besluit sy om uit die stad te trek na ‘n landelike gebied, na haar droom van Afrika. Wonderlik. Sy het geweet daar sal nie meer wilde diere wees nie, maar voëls en paddas, krieke en sonbesies se veelstemmige geluide was al ‘n groot verskil van die gewoonde stadsgeraas. Net die gebulk van die koeie, dag en nag, was irriteerend. Oorals is beeste. Die ongelooflikste sonsondergang word begelei met die gebrul, nie van leeus nie, nee, met ‘n koei se verlange na ‘n maat.
Toe eendag skiet dit haar te binne, dat sy baie onnosel is. Nooit het sy ‘n bees as inheems in Afrika beskou nie. Haar prentjie van Afrika was gevorm deur die Nationale Parke met sy “wilde”diere.
Dit is egte Afrika waar sy nou woon. Die beeste is die rykdom, latyns: “pecunia”. Geen pekoenêre waarde, nie geldelike besit nie, hier is beeste ‘n statussimbool.
Net kort daarna, miskien ‘n dag of twee later na sy haar insig met die koeie reg geruk het, kom haar kinders terug van ‘n vakansie en sy haal uit die geskenkpakkie – hierdie Brasiliaanse koei:
