Wie skryf nog in vandag se digitale eeu sy liefdesbriewe spontaan met pen op papier, en pos dit?
Vir hoe lank sal die mooi woorde in besonderse emotionele e-pos en sms boodskape op die rekenaar en selfoon bewaar kan word?
Sal agterkleinkinders na ons afsterwe nog ‘n pakkie briewe vind wat goed weggesteek was?
Selfs Valentynskaarte word vandag oor die internet gepos.
Miskien is dit net nog Ouvrou wat sentimentaal voel oor die stukkies papier in haar hand, wat van liefdesgevoelens vertel en warm herinneringe laat belewe.
Nog altyd word Kersfees in Desember en die Kersaand op die 24. gevier. Ook Ouvrou het hierdie tradisie bybehou in die amper vyftig jaar wat sy nou in Suidafrika tuis is. Daar is net een groot verskill tussen ‘n Kersfees in die midwinter en dié wat gedurende hoogsomer gevier word.
Hier is 21./22. Desember die langste dag en kortste nag in die jaar. Tot dan het die son elke dag ‘n bietjie vroër opgekom en ‘n bietjie later agter die horison verdwyn. In die stad het dit min invloed op die alledagse lewe. ‘n Dag se roetine verloop klokslag, uitgerig na die horlosie met gereëlde werksure, skoolgaan en selfs met die vryetydsbesteding. Maar op die platteland kan die invloed van die son se kom en gaan nie so maklik ignoreer word nie. “Met die hoenders opstaan” is nie net ‘n spreekwoord nie, dit word nog steeds toegepas. Die hoenderhaan kraai, die hoenders kekkel – net so vroeg soos dit helder word. Ook in die stad word die voëltjies met sonop gehoor, maar dit beteken nie opstaantyd nie. Die pluimvee sal eers rus gee as hulle hok oopgemaak word. En daarmee het ‘n dag se wersaamhede sy aanfang geneem, ongeag wat die horlosie sê. Dieselfde geld saans. Diere, om by die hoenders te bly, soek eers hulle slaapplek op as die son sak. Dit is die ritme van die natuur.
Beleef die somersonwende:
Soek jou eie skaduwee gedurende die midddagsuur op die 21./22. Desember -
Ouvrou het nie meer ‘n besem nodig om haar geliefdes deur lug en wolke te besoek nie. Vandag kan sy met haar selfoon en rekenaar rustig kuier sonder groot moeite. Die voorwaarde is dat haar vriende ook die digitale toerusting besit.
Die kuns van hoe om in die kuber ruimte rond te swerf, is vir ouer mense nie maklik om aan te leer nie. Daar is ook ‘n nuwe woordeskat in gebruik wat soms ontmoonlik is om te verstaan.
Selfone is deel van die nuwe manier om in die ruimte rond te rits, sonder om vasgepen te wees naby ‘n telefoon. Soos?n blits uit die bloute van die hemel word die stem, boodskap of selfs ?n foto oorgedra.
Kom, mede-Oktenariërs, laat ons die kuber ruimte invaar en met „Google Earth“ die hele wêreld verken! Gerieflik, gemaklik en sonder moeite. Ons besems lyk in elk geval al baie gehawend en het hul aftrede wel verdien.
Ouvrou verstaan nou hoekom die paddas beangs kwaak net voordat dit reën.
Dit is die storie:
Die oeroue padda moeder besef dit is nou haar tyd om te sterf. Sy is erg bekommerd dat haar seuns, die brulpaddas, haar miskien te naby hulle poeltjie se rand sal begrawe. Met reën styg die water in die klein dammetjie en sy moet sorg dat sy nie uit haar graf sal weggespoel word nie. Sy ken haar seuns baie goed en weet dat hulle dit as ‘n groot grap sou beskou as hulle presies net die teenoorgestelte doen van wat sy vir hulle opgedra het. Om die veiligheid van haar begrafplek te verseker, gee sy haar wens te kenne, dat sy naby aan die poeltjie se rand will begrawe word. Haar seuns mag nou maar die verste rand kies en sy sal gerus wees.
Die seuns voel, hierdie laaste wens van hulle moeder moet eenvoudig gerespekteer word en begrawe haar so naby moontik aan die poeltjie se rand. Almal hoor nou, nog voordat die reën, hulle vreeslike kwaakgejammer. Die paddas brul luidkeels, so beangs is hulle en daarom word hulle “brulpaddas” genoem.
Reënweer vereenig die paddagemeenskap en almal kwaak, brul en tjirp saam in die groot paddakoor – of is dit erder ‘n orkes? Fortissimo!
Op hierdie webwerf is die gesigte van vriende, en vriende van die vriende se vriende s’n. Soms verskyn in die plek van ‘n gesig ‘n groep of ‘n beeld. Almal is vriendelik. Maar wat van die vriende sonder gesigte?
Ouvrou wonder maar net.
Dit het baie oorredingskuns van haar seun gekos, om by die “facebook” aan te sluit. Ouvrou het geredeneer dat op haar leeftyd meeste van haar vriende dood is of glad nie in rekenaars ens. belangstel nie. Nou het die “boek van gesigte” haar laat besef, dat vriende nie ouderdomsgebonde is nie. Sy het sowaar nog baie vriende!
Ouvrou se foto in “facebook” het ‘n storie:
Jare gelede verras haar seun haar met ‘n besonderse verjaarsdagkaartjie. Daarop verskyn ook Ouvrou se gesig, maar sy kon gladnie herinner waar en wanneer dit afgeneem is nie. Dat intussen ‘n selfoon ook fotos kan neem, amper skelmpies, het sy daardie tyd nog nie geweet nie. —
Gister, Sondag, het ek 79 jaar oud geword. Net nog hierdie jaar dan is ek TAGTIG!
Toe vanoggend:
Sonskyn, ‘n heerlike dag, reg om hierdie blou Maandag te vier met ‘n slukkie van die sjampanje wat oorgebly het, sjokolade (wat nog nie gebêre was nie), Frank Duval, vol volume deur luidsprekers – en onder hierdie klanke met élan die skottelgoed te was.
Die nuwe Maandag het ouvrou die laaste van haar sewentiger jare lekker laat begin!
Ouvrou onthou baie goed die gebeurtenis toe hierdie foto geneem is:
Ek was twee jaar oud (dit staan agter op die foto). Ons het by vriende van my ouers gekuier en hulle het ook ‘n dogtertjie so oud soos ek gehad. Aan haar het die padda uit sagte rubber behoort (toe was daar mos nog nie plastiek nie). Ek wou so graag met die padda speel, maar sy het dit nooit toegelaat nie. Toe word die padda in my arms gedruk – ek kon dit nie glo nie! Ek was salig, onbeskryflik gelukkig.
“Dit was net vir die foto”, probeer Pa my troos, toe die padda van my weggeneem word en ek in trane uitbars. Ek sal vandag die plek weer vind, presies waar ek gestaan het, toe ‘n groot pyn deur en deur my gegaan het. Ontmoontlik om te verstaan, hoekom my so seer maak? Die padda is mos vir my gegee? ‘n Wens word uiteindelik vervul,
en toe – - -
‘n Tweejarige gee nie om vir ‘n mooi foto nie. ‘n Tweejarige het die padda gekry sonder om dit self te vat. Sy was gehoorsaam. Hoekom moes sy dan die padda weer teruggee? Dit kon sy nie verstaan nie en sy het die ander meisietjie daarvoor blameer.
Ons het na dieselfde skool gegaan, maar ek het haar vermy deur al die jare. Altyd ‘n afstand probeer hou tussen haar en my. Hoekom? Iets in verband met haar was nie lekker nie.
Dit was ‘n leeftyd later toe ek op die foto afkom en besef het, hoe ongereg ek teenoor haar was. Maar ek is seker, sy het ook nie my vriendskap gesoek nie. Ten slotte het hulle haar padda aan my gegee en hoe erg was dié oomblik vir haar?
Ouvrou kyk na die foto en beleef dit oor en oor: “himmelhoch-jauchzend” en “zum Tode betrübt”.
Ouvrou se kinders bring ‘n koei van Brasilië vir haar as present. Sy lag! O, nee, nee. Dít is nou ‘n storie:
Toe Ouvrou lank, lank gelede na Suid Afrika gekom het, was die Kruger Nasionale Park vir haar die eintlike “Afrika”. Die wilde diere en veral die geluide in die nag, net soos sy gedink het Afrika sal wees.
‘n Paar jare gelede besluit sy om uit die stad te trek na ‘n landelike gebied, na haar droom van Afrika. Wonderlik. Sy het geweet daar sal nie meer wilde diere wees nie, maar voëls en paddas, krieke en sonbesies se veelstemmige geluide was al ‘n groot verskil van die gewoonde stadsgeraas. Net die gebulk van die koeie, dag en nag, was irriteerend. Oorals is beeste. Die ongelooflikste sonsondergang word begelei met die gebrul, nie van leeus nie, nee, met ‘n koei se verlange na ‘n maat.
Toe eendag skiet dit haar te binne, dat sy baie onnosel is. Nooit het sy ‘n bees as inheems in Afrika beskou nie. Haar prentjie van Afrika was gevorm deur die Nationale Parke met sy “wilde”diere.
Dit is egte Afrika waar sy nou woon. Die beeste is die rykdom, latyns: “pecunia”. Geen pekoenêre waarde, nie geldelike besit nie, hier is beeste ‘n statussimbool.
Net kort daarna, miskien ‘n dag of twee later na sy haar insig met die koeie reg geruk het, kom haar kinders terug van ‘n vakansie en sy haal uit die geskenkpakkie – hierdie Brasiliaanse koei:
Haiku is ‘n ou Japanese vorm van ‘n baie kort gedig. Dit is besonders, dat ‘n toneel, ‘n situasie uitgebeeld word met ‘n eerste reël wat uit net vyf lettergrepe, ‘n tweede reël uit sewe en ‘n derde reël weer uit net vyf lettergrepe bestaan.
Ouvrou probeer:
Somernag. Volmaan.
Visbraaivuur met soetpatats.
Klere ruik na rook.
Doudruppels op blaar.
Groot hoender pik klein slakkie.
Aarbei rooi en stom.
Meeu ry golwe.
Sardyntjies swem in skole.
Dolfyn bollmakies’.
In ‘n klein armoedige huisie het twee ou mense gebly. Liewe mense, still en teruggetrokke. Af en toe het ek by hulle ingeloer, ietsie vir hulle saamgebring en ‘n koppie koffie saam met hulle gedrink. Eendag sê die ou man: “Ons pruime is ryp, jy moet een proe.” Eintlik is ek gladnie lief vir pruime nie, hulle het altyd wurms. Maar sy vrou voeg trots by: “En hulle het niks wurms nie!” Dit was ‘n lekker groot pruim wat hulle my gegee het om te eet. Hulle twee hou my dop en wag vir my lof. Ek byt in die pruim – en siedaar – ‘n wurmpie kyk na my met die piepklein oogies! Toe ek dit vir die ou mense wou wys, sien ek hoe trots en gelukkig hulle is om vir my so ‘n pragtige pruim te kon gee. En ek eet alles op, pruim én wurmpie.
Na al die jare kan ek net nie die wurmpie vergeet nie – - -
Van sy reis deur die Oriënt het my vader nie net fotos saamgebring nie, maar ook die naam “Fatima”. Twee jare later het dit een van my drie voorname geword.
Hierdie naam was die rede vir my behoefde om Arabies te leer. Maar ek het eers later in my lewe die tyd gevind om dit te kon studeer. Veral van die skrif hou ek baie en het dit soms met Duitse en Afrikaanse woorde gebruik, soos ‘n geheimkode. Ongelukkig is my taalkennis nou vervaag.
Maar as moeder van sewe kinders het ek wel die betekenis van “Fatima” vervul: die veelgebarende.